Brekende Nuus
Afrikaans

KYK: Polisieman se seun uiteindelik in hof na ongeluk lewe eis

'n Polisieman se seun wat 'n ongeluk gemaak en glo die dood van Patrick Jewell veroorsaak het, het na amper drie jaar in die hof verskyn.

Foto: Afriforum Privaatvervolgingseenheid
Foto: Afriforum Privaatvervolgingseenheid

Video-opname van werklike ongeluk in berig

NOORDWES. – Kgaugelo Masenya (19) het glo op 21 September 2021 die dood van Patrick Jewell (65) tydens ‘n botsing veroorsaak. Masenya het vandag vlugtig op ‘n aanklag van strafbare manslag in die Brits-landdroshof verskyn.

Barry Bateman, woordvoerder vir Afriforum se privaatvervolgingseenheid sê Jacky, die oorledene se dogter, het die eenheid vir hulp genader omdat daar geen momentum in die saak is nie.

Masenya is die seun van ‘n polisiekaptein wat vir die polisie se beskermingsdienste werk. Die verdagte het glo op die betrokke dag sy pa se voertuig sonder ‘n lisensie vir ‘n plesierrit saam met sy vriende bestuur. Masenya het volgens ‘n video na bewering om die hoek gejaag, beheer verloor en in Jewell en sy stilstaande voertuig vasgejaag.

Jewell, wat besig was om waterbottels in sy voertuig te laai om sy vrou se graf te besoek, is beseer en na ‘n hospitaal geneem waar hy 20 dae later gesterf het. Jacky het twee maande na die ongeluk beeldmateriaal bekom en aan die ondersoekbeampte oorhandig. Dit was glo nie deur die ondersoekbeampte opgevolg nie.

Die privaatvervolgingseenheid het in Mei 2022 ‘n klagte teen die beampte ingedien. Toe daar teen Julie 2022 nog geen antwoord oor die saak was nie, het die eenheid ‘n klagte by die nasionale kantoor van die SAPD gelê. Die saak het hierna aandag geniet en die dossier is in Mei 2023 na die hof gestuur waarna daar besluit is om Masenya te vervolg.

Masenya het uiteindelik vandg in die Brits-landdroshof verskyn, waarna die saak tot 10 April uitgestel is.

Lees die volledige verklaring hier onder:

Seun van SAPD-beskermingsbeampte uiteindelik in hof jare ná dodelike botsing

Byna drie jaar gelede op 21 September 2021 het ’n tiener, wat sy pa se voertuig gesteel het, vir ’n plesierrit saam met sy vriende, ’n botsing veroorsaak wat die lewe van Patrick Jewell (65) geëis het. Kgaugelo Masenya (19) het vandag vir die eerste keer vlugtig in die Brits-landdroshof verskyn op ’n aanklag van strafbare manslag vir Jewell se dood. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Jewell se dogter, Jacky, in hierdie saak. Jacky het dié eenheid genader nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) versuim het om die saak te ondersoek.

Masenya se pa is ’n kaptein by die SAPD se beskermings-en-sekuriteitseenheid en daar word vermoed dat die SAPD se versuim om hierdie saak te ondersoek te wyte is aan polisiebeamptes wat vir hul kollegas skerm. Masenya word ook daarvan aangekla dat hy ’n voertuig sonder ’n lisensie bestuur het – hy was 16 ten tyde van die voorval.

Op die noodlottige dag was Jewell op die sypaadjie buite sy huis besig om waterbottels in sy Hyundai i10 te laai om die blomme by sy vrou se graf te gaan natlei. Beeldmateriaal wys hoe ’n wit BMW X5 om ’n hoek jaag, beheer verloor en dan bots met Jewell se motor waar Jewell gestaan het. Jewell is na die hospitaal geneem waar hy 20 dae later aan sy beserings beswyk het.

Jacky het twee maande ná die botsing beeldmateriaal van die botsing bekom en die kontakbesonderhede van die persoon wat dit verskaf het aan die ondersoekbeampte gegee. Die ondersoekbeampte het ses maande later steeds nie opgevolg oor die beeldmateriaal nie. Voorts het die ondersoekbeampte eers ses weke ná die botsing verklarings van ooggetuies afgeneem.

Die privaatvervolgingseenheid het in Mei 2022 van die optrede van die ondersoekbeampte verneem en ’n formele klag teen die betrokke beampte by die provinsiale polisiekantoor geopen. Teen Julie 2022 is daar nog geen betekenisvolle terugvoer van die provinsiale kantoor ontvang nie wat die privaatvervolgingseenheid genoop het om by die SAPD se nasionale kantoor ’n klag te lê. Tóé eers is die saak behoorlik ondersoek.

Die dossier is uiteindelik in Mei verlede jaar aan die hof gestuur waarna daar besluit is om Masenya te vervolg.

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat die saak nou nog sou sloer as die privaatvervolgingseenheid nie toegetree het nie. “Ons het male sonder tal te doen met sake waar ondersoekbeamptes versuim om hulle verpligtinge na te kom. Ons vermoed dat die pa van die beskuldigde se titel in hierdie saak die rede was dat die saak nie ondersoek is nie. Dit beledig die beginsel dat almal gelyk is voor die reg en dit mag nie geduld word nie. Dit was inderwaarheid die privaatvervolgingseenheid wat verseker het dat die SAPD die nodige bewyse versamel het en ’n dossier aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig het.”

Jacky het haar dankbaarheid teenoor die privaatvervolgingseenheid uitgespreek. “Ek is baie bly, maar ek het gemengde gevoelens omdat ek nie weet wat om te verwag nie. Daar gebeur darem nou iets, die saak kan verhoor word en ons kan geregtigheid kry vir my pa se dood. AfriForum het my die hele pad bygestaan, hulle het die saak gedruk, meer inligting verkry en seker gemaak dat alles reg verloop. Ongelukkig kan ek nie dieselfde oor die polisie sê nie.”

Die saak is uitgestel tot 10 April 2024.