OOS-KAAP. – Vier verdagtes, onder wie ‘n vrou (46), is in hegtenis geneem nadat hulle glo Vrydag ‘n plaasaanval op Alicedale uitgevoer het.
Kapt. Marius McCarthy sê die verdagtes is na die plaasaanval met sewe gesteelde skape en twee ongelisensieerde vuurwapens vasgetrek.
Na bewering het die verdagtes Vrydagoggend omstreeks 05:45 in ‘n Toyota Quantum by die plaas gestop. Twee plaaswerkers is met vuurwapens gedreig, aangerand en aangehou. Die skape is in die Quantum gelaai en die verdagtes het van die toneel gevlug. Die plaaseienaar is van die voorval ingelig en het op sy beurt ‘n privaat veiligheidsmaatskappy en die polisie ontbied. ‘n Beskrywing van die Quantum is gegee.
Die plaaseienaar het die Quantum opgemerk en agtervolg, terwyl hy die polisie op hoogte gehou het. Die polisie het die verdagte voertuig op die N10, naby Patensie, voorgekeer. Die verdagtes is op aanklagte van huisroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens in hegtenis geneem. Die gesteelde skape is in die Quantum teruggevind.