GAUTENG. – Drie verdagtes is Dinsdag omstreeks 11:30 in Alberton deur die EMPD vasgetrek en op vermoedelike gesteelde items beslag gelê.
Zweli Dlamini, woordvoerder vir die Ekurhuleni-metropolisie, sê ‘n blou VW Polo, met die drie insittendes, het teen ‘n hoë snelheid oor ‘n rooi verkeerslig in Hennie Albertsstraat gejaag. EMPD-beamptes wou die Polo tot stilstand bring, maar die vlugtende verdagtes het die blou ligte en sirenes geïgnoreer. EMPD-rugsteun is ontbied, waarna die verdagtes in Michelle-rylaan vasgekeer is. Een van die verdagtes het te voet probeer vlug, maar kon nie vir die wetstoepassers weghardloop nie.
Dlamini sê tydens deursoeking van die verdagtes en die voertuig is ontdek die nommerplate op die voertuig stem nie met die lisensieskyfie ooreen nie. ‘n Storingstoestel en vermoedelik gesteelde items is ook gevind en gekonfiskeer.
Die drie verdagtes, wat van vertoon van ‘n vals lisensieskyfie, sameswering om misdaad te pleeg en roekelose en nalatige bestuur beskuldig word is na die Brackendowns-polisiestasie geneem. Die voertuig is by die EMPD geskut en sal verder ondersoek word.
Dlamini sê die verdagtes sal in die Palmridge-landdroshof voorkom.