Brekende Nuus
Afrikaans

Verdagtes in hof oor beweerde onwettige vuurwapens

Foto's: SAPD
Foto's: SAPD

NOORDWES. – Thompho Ravelo (25) en Stephen Prinsloo (41) is Woensdag deur die Koster-polisie in hegtenis geneem. Beide is glo met vuurwapens, waarvan hulle nie die gelisensieerde eienaars is nie, betrap.

Brig. Sabata Mokgwabone sê die polisie het ‘n wenk ontvang waarna Thompho in die Reagile-woonbuurt met ‘n geweer betrap is. Thompho kon nie die vuurwapen in sy besit verduidelik nie. Eienaarskap is later vasgestel en hy is gearresteer. Die vuurwapen is nie deur die gelisensieerde eienaar as gesteel aangemeld nie.

Mokgwabone sê verdere ondersoek het na Prinsloo gelei, wat in besit van ‘n .22, waarvoor hy nie gelisensieer is nie, gevind is. Hy kon ook geen verduideliking gee nie en is in hegtenis geneem. Daar is vasgestel die vuurwapen behoort ook aan die gelisensieerde eienaar van die vuurwapen wat by Thompho gekry is.

Thompho en Prinsloo het Donderdag in die Koster-landdroshof voorgekom. Thompho se saak is tot 28 Oktober uitgestel. Hy bly in aanhouding. Prinsloo sal na verwagting weer Maandag vir ‘n amptelike borgaansoek in die hof verskyn.