GAUTENG. – Lede van die polisie se Tshwane-stabiliseringspan het Vrydag ‘n voertuig wat vroeër die maand in Sinoville gesteel is, op die Soutpanpad onderskep.
AO Johan van Dyk sê polisielede was besig om die Soutpanpad te patrolleer toe hulle ‘n wit Honda Ballade wat vinnig ry, opgemerk het. ‘n Hoëspoedjaagtog het ontstaan waartydens polisielede daarin kon slaag om tot langs die voertuig te ry en dit tot stilstand te dwing.
Van Dyk sê die voertuig is deursoek, maar aanvanklik is niks verdag gevind nie en die voertuig is nie as gesteel aangemeld nie. Met verdere ondersoek het die polisielede op ‘n voertuigeienaarshandleiding en diensrekord afgekom. Inligting is nagegaan en daar is gevind daar is met die enjin en onderstelnommer gepeuter.
Met die oorspronklike identifikasiebesonderhede is bevind die voertuig is wel in Sinoville as gesteel aangemeld. Die verdagte is in hegtenis geneem en van die besit van ‘n gesteelde motorvoertuig aangekla.
“Verdere ondersoeke sal bepaal of die verdagte by die diefstal van die voertuig betrokke was.”
Maj.genl. Samuel Thine prys die polisielede met die sukses.