Brekende Nuus
Misdaad

Moordsyfers daal met 5,9% in eerste kwartaal

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ’n Daling in moord en verskeie ander ernstige misdade is in die eerste kwartaal van die 2026/27-boekjaar in Suid-Afrika aangeteken, hoewel poging tot moord en sommige ander misdaadkategorieë toegeneem het.

Volgens die jongste misdaadstatistieke van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is 5 427 persone tussen April en Junie 2026 vermoor. Dit is 343 minder as die 5 770 moorde wat in dieselfde tydperk verlede jaar aangeteken is – ’n afname van 5,9%. Kontakmisdaad het met 2,3% afgeneem, van 145 446 tot 142 112 gevalle. Poging tot moord het egter met 8,7% toegeneem, terwyl ernstige aanranding met 2,5% en gewone aanranding met 2% gestyg het.

Onder die grootste dalings was roof met verswarende omstandighede, wat met 14,7% afgeneem het, terwyl gewone roof met 5,3% gedaal het. Gauteng het die meeste moorde in absolute getalle aangeteken, met 1 276 gevalle, gevolg deur KwaZulu-Natal met 1 179 en die Wes-Kaap met 1 071. Slegs in Mpumalanga en Noordwes is ’n toename in moord aangeteken.

Firoz Cachalia, die waarnemende polisieminister, sê die afname in verskeie ernstige misdade is bemoedigend, maar dat die vlakke van geweld steeds kommerwekkend hoog is. Hy het veral kommer uitgespreek oor misdaad wat vroue, kinders en ander kwesbare persone raak. Die polisie sê die statistieke sal gebruik word om hulpbronne en operasies toenemend op hoërisikogebiede te fokus.