Brekende Nuus
Wêreld

Hierdie 6 SA’ners vermis ná vloede in Nepal

Foto's: Gift of the Givers

Surendranath Maharaj (74), Anitha Devi Maharaj (67), Vivaganathan Pillay (66), Janet Pillay (56), Bavika Ramjee (43) en Terricia Govender (33) is in die gebied langs die Nepal-Tibet vermis. Gift of the Givers het die ses geïdentifseer nadat verwoestende vloede die grensgebied op 26 Augustus getref het.

Die Maharaj-egpaar is van Ladysmith in KwaZulu-Natal. Die Pillay-egpaar het volgens beskikbare inligting saam gereis. Ramjee is van Oos-Londen en Govender van Isipingo Beach in KwaZulu-Natal. Gift of the Givers het intussen ’n 11-lede span van stedelike- en waterreddingspesialiste op bystand geplaas. Vier SAPD-hondegeleiers en vier soekhonde is ook vir moontlike ontplooiing beskikbaar gestel. Die organisasie sê die span is gereed om te help indien dit deur die Nepalese owerhede versoek word.

Die Suid-Afrikaanse regering is ook besig om inligting oor die vermiste burgers in te samel en met owerhede in die streek te skakel. Intussen wag die families van die vermiste Suid-Afrikaners op nuus oor hul geliefdes.