Brekende Nuus
Afrikaans

DA ondersoek tenderonreëlmatighede by Hopetown-skool

Op die ou einde is dit ons kinders wat deur die korrupte regering benadeel word, want dit is hulle wat geen saal het vir byeenkomste of waarin hulle matriekeksamen kan skryf nie.

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap ondersoek die beweerde hertoekenning van ‘n tender vir ‘n mislukte skoolbouprojek aan die einste maatskappy wat voorheen van die projek onttrek het en dit tot niet laat gaan het.

Op grond van inligting wat deur die DA ontvang is, blyk dit dat die skoolsaal by Hoërskool Steynville in Hopetown, wat net bestaan uit ‘n metaalraam met ‘n dak, vir twee jaar so gestaan het sonder dat dit voltooi is. As gevolg hiervan is die struktuur merkbaar geroes weens blootstelling aan die elemente en vereis ‘n volraamvervanging voordat die projek kan voortgaan.

Gegewe die blatante onvermoë van die vorige kontrakteur om hierdie projek te voltooi, is dit verstommend dat die regering dit selfs kon oorweeg om ‘n nuwe tender vir die regstelling van die werk wat reeds gedoen is en die voltooiing van die projek, wat lankal klaar moes gewees het, weer aan die oortredende maatskappy toe te ken.

Ons kan net wonder hoekom hierdie maatskappy, of sy direkteure, nie op die swartlys geplaas is pleks daarvan dat hulle ‘n tweede kans gegun word om onregverdige voordeel te trek uit die staat se toenemend skaars finansiële hulpbronne nie.

Op die ou einde is dit ons kinders wat deur die korrupte regering benadeel word, want dit is hulle wat geen saal het vir byeenkomste of waarin hulle matriekeksamen kan skryf nie.

Die DA het parlementêre vrae voorberei vir die departemente van onderwys asook paaie en openbare werke. Ons bevraagteken onder meer die waarde van die vorige en huidige kontrakte, wat voorheen verkeerd geloop het, asook tenderprosesse wat gevolg is. Alle inligting in ons besit sal mettertyd aan die Premier en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) oorhandig word.

Ons moet nie toelaat dat fondse wat bedoel is vir die verbetering van onderwys na die sakke van selfsugtige individue herlei word nie.

*PERSVERKLARING

Lees ook: Geregtelike doodsondersoek kom nadat lyk in die Vaalrivier gevind is