Brekende Nuus
Gesondheid

Gesondheidsdepartement stel publiek gerus oor medisynevoorraad

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – “Veranderinge in die kleur, vorm, verpakking of vervaardiger van ’n medisyne beteken nie noodwendig dat die medisyne self verander het nie.” Die departement van gesondheid stel die publiek gerus dat die voorraad van medisyne in die openbare gesondheidsektor stabiel is.

Volgens Foster Mohale, departementele woordvoerder, is die departement bewus van kommer oor medisyne wat by openbare gesondheidsfasiliteite in verskeie provinsies as “uit voorraad” aangedui word, asook gevalle waar pasiënte medisyne ontvang wat anders lyk as dié wat hulle voorheen ontvang het. Goedgekeurde verskaffers moet aan streng regulatoriese en gehaltestandaarde voldoen. Waar meer as een goedgekeurde verskaffer dieselfde medisyne lewer, kan pasiënte mettertyd produkte van verskillende vervaardigers ontvang. Hoewel die medisyne anders kan lyk, bevat dit dieselfde aktiewe bestanddele, is dit van dieselfde sterkte en gehalte en bied dit dieselfde terapeutiese voordele. Die departement sê hierdie medisyne is as veilig, doeltreffend en uitruilbaar goedgekeur. Gesondheidswerkers kan daarom ’n ekwivalente medisyne verskaf om te verseker dat pasiënte se behandeling voortgaan. Pasiënte wat onseker is oor die voorkoms van hul medisyne, word aangeraai om met hul dokter, apteker of verpleegkundige te praat.

Die departement sê berigte oor medisynetekorte beteken ook nie noodwendig dat pasiënte sonder behandeling gelaat word nie. In sommige gevalle kan ’n spesifieke handelsmerk, verpakkingsgrootte of verskaffer se produk tydelik nie beskikbaar wees nie, terwyl ’n ekwivalente medisyne wel beskikbaar is. Medisynevoorraad word deur die National Surveillance Centre en ander verslagdoeningstelsels, waaronder die webgebaseerde Stock Visibility System (SVS), gemonitor.