NOORD-KAAP. – ‘n Pakkie wat deur ’n koerierdiens by die verkeerde adres in Kimberley afgelewer is, het Donderdag daartoe gelei dat die polisie dwelms ter waarde van R195 000 gekonfiskeer het. ’n 48-jarige buitelandse burger is in hegtenis geneem.
Volgens polisiewoordvoerder, brig. Mashay Gamieldien, is beamptes van die provinsiale georganiseerde misdaad-eenheid omstreeks 11:00 na ’n plaaslike onderneming ontbied, nadat die pakkie glo verkeerd afgelewer is. Die polisie het ’n beheerde aflewering gereël, waarna die beoogde ontvanger in hegtenis geneem is. ’n Deursoeking van die pakkie het tik en 300 Mandrax-tablette, wat in ’n plastieksak versteek was, opgelewer. Die dwelms het ’n geraamde straatwaarde van R195 000.
Kontant wat vermoedelik die opbrengs van dwelmhandel is, is ook in die verdagte se besit gevind en vir verdere ondersoek gekonfiskeer. Die verdagte staan tereg op ’n aanklag van dwelmhandel en sal na verwagting binnekort in die Kimberley-landdroshof verskyn.