Brekende Nuus
Misdaad

Bestuurder van skoolvervoer in Westbury doodgeskiet

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ’n 53-jarige bestuurder van ’n skoolvervoerdiens is vanoggend (Maandag) in Westbury doodgeskiet, nadat hy pas skoolkinders afgelaai het.

Volgens kapt. Tintswalo Sibeko, polisiewoordvoerder, het die polisie omstreeks 08:10 ’n klag oor ’n skietvoorval ontvang. Met hul aankoms het beamptes die man met verskeie skietwonde aangetref. Hy het pas die skoolkinders afgelaai en was op die punt om sy voertuig by ’n woonstelblok in Westbury te parkeer, toe twee onbekende mans hom glo genader en op hom losgebrand het.

Paramedici het hom op die toneel dood verklaar. Die verdagtes het volgens die polisie in ’n blou Volkswagen Polo van die toneel gevlug. Die motief vir die skietery is nog onbekend.

Die Sophiatown-polisie het ’n saak van moord geopen. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort. Enigiemand met relevante inligting word gevra om met die polisie in verbinding te tree.