WES-KAAP. – Altman Sampson (46) is in die Ceres-streekhof tot agt lewenslange vonnisse en ’n bykomende 17 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, nadat hy twee vroue in 2023 aangeval en herhaaldelik verkrag het.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê Sampson is skuldig bevind aan agt aanklagte van verkragting, drie van aanranding met die opset om ernstig te beseer, een van aanranding en een van ontvoering. Die misdade het tussen Junie en Julie 2023 in Bella Vista, Ceres, plaasgevind. Sampson het die twee vroue na sy woonwa gelok of daarheen gesleep, waar hy hulle aangerand en seksueel mishandel het. Die twee slagoffers het tydens die verhoor getuig oor die traumatiese gevolge van die aanvalle. Sampson het die aanklagte ontken en beweer die seksuele ontmoetings was konsensueel.
Landdros Clifton Maseti het hom egter skuldig bevind en gevonnis. Sampson is ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit en sy naam sal in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word.