Brekende Nuus
Nuus

Hof verklaar SEB-vereiste vir eiendomspraktisyns ongrondwetlik

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ’n Bepaling wat vereis dat eiendomspraktisyns oor ’n swart-ekonomiese-bemagtiging (SEG)-sertifikaat moet beskik om ’n Getrouheidsfondssertifikaat (FFC) te bekom, is in die Pretoriase hooggeregshof ongrondwetlik verklaar.

Die organisasie Sakeliga, wat die saak teen die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns (PPRA) aanhangig gemaak het, sê die uitspraak beteken dat die PPRA nie meer ’n FFC mag weier bloot omdat ’n aansoeker nie oor ’n SEB-sertifikaat beskik nie. Die saak spruit uit ’n besluit deur die PPRA om FFC’s, wat eiendomspraktisyns benodig om wettig sake te doen, van ondernemings te weerhou wat nie ’n SEB-sertifikaat kon voorlê nie. Die hof het dié vereiste, artikel 50(a)(x) van die Wet op Eiendomspraktisyns, ongeldig verklaar. Sakeliga sê die uitspraak bevry eiendomspraktisyns met onmiddellike ingang van die verpligting om aan die SEB-vereiste vir ’n FFC te voldoen.

Die hof het Sakeliga ook gedeeltelik gelyk gegee oor die definisie van “eiendomspraktisyn” in die wet. Sekere dele van die definisie is volgens die organisasie ongrondwetlik verklaar. Omdat die uitspraak bevind dat bepalings van ’n wet ongrondwetlik is, word dit na die Konstitusionele Hof verwys vir bekragtiging. Sakeliga sê die Parlement sal ná bekragtiging 24 maande hê om die betrokke definisie te wysig. Die PPRA is ook gelas om Sakeliga se regskoste, insluitend die koste van twee advokate, te betaal.

Sakeliga sê hy oorweeg verdere regsopsies nadat die hof nie die volledige beperking van die definisie toegestaan het waarvoor die organisasie gevra het nie.

Druk hier om meer te lees.