GAUTENG. – ’n Beloning van R400 000 is aangebied vir inligting wat kan lei tot ’n deurbraak in die ondersoek na die dood van agt vroue wie se liggame in Ekurhuleni gevind is.
Volgens die polisie het ’n hoëvlak-afvaardiging gisteraand by die polisie se provinsiale hoofkantoor in Parktown vergader om die ondersoeke te bespreek. Firoz Cachalia, die waarnemende minister van polisie, Sindisiwe Chikunga, minister van vroue, jeug en persone met gestremdhede, Dinah Pule, minister van maatskaplike ontwikkeling, dr. Polly Boshielo, adjunkminister van polisie, Panyaza Lesufi, Gautengse premier en lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, was deel van die afvaardiging. Volgens Dimpane is ’n verdagte reeds in hegtenis geneem in verband met een van die moorde wat in Julie gepleeg is.
Die SAPD is ook op soek na ’n ander persoon van belang in die ondersoek. Die polisie het ’n beloning van R400 000 aangebied vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die gesoekte verdagte of verdagtes.