Video in berig.
GAUTENG. – Lawrence Chamurwa Mudzinganyama, ’n sakeman, is Sondag in hegtenis geneem nadat beeldmateriaal van hom wat na bewering gedreig het om vroue by Vlamo-restaurant in Sandton te skiet, op sosiale media versprei het. Lt.genl. Tebello Mosikili, adjunk- nasionale kommissaris vir polisiëring, het Maandag bevestig dat Mudzinganyama hom by die Randburg-polisiekantoor oorgegee en dat hy op waarskuwing vrygelaat is.
Volgens die polisie is Mudzinganyama Sondag in hegtenis geneem en moet hy weer op 1 Oktober in die Randburg-landdroshof verskyn. Die voorval het volgens berigte in die restaurant se vrouebadkamer plaasgevind. Mudzinganyama het intussen om verskoning gevra en gesê sy taalgebruik was onaanvaarbaar en onregverdigbaar. Die polisie-ondersoek duur voort en die dossier sal ná voltooiing aan die senior staatsaanklaer vir ’n besluit oor vervolging voorgelê word.
Vlamo-restaurant het in ’n verklaring gesê die persoon in die video is nie ’n werknemer, eienaar of medewerker van die restaurant nie. Volgens die bestuur is hy ná die voorval van die perseel verwyder en is die veiligheid en welstand van die betrokke vroue daarna ’n prioriteit gemaak. In ’n opvolgverklaring het Vlamo bevestig die voorval is op 19 September by die polisie aangemeld en ’n saaknommer uitgereik. Die restaurant het gesê dit werk met die polisie saam en dat sigbare veiligheidswagte voortaan op die perseel teenwoordig sal wees.
Mudzinganyama is intussen met onmiddellike effek uit sy posisie by Morial Infrastructure Group verwyder.
Die ministerie van openbare werke en infrastruktuur het intussen ’n afsonderlike ondersoek aangekondig ná bewerings oor graderings wat aan Morial Infrastructure Group deur die Construction Industry Development Board (CIDB), oftewel die Konstruksiebedryfontwikkelingsraad, toegeken is. Minister Dean Macpherson het die CIDB opdrag gegee om die bewerings te ondersoek dat die maatskappy verskeie graderings op dieselfde dag verkry het en moontlik nie aan die vereistes daarvoor voldoen het nie. Hierdie ondersoek staan apart van die polisie se ondersoek teen Mudzinganyama.
Volgens die departement van vervoer se Facebook-blad het Barbara Creecy, die minister van vervoer, die Sanral-raad opdrag gegee om ondersoek in te stel na of Morial Infrastructure Group wettiglik deur Sanral aangestel is en of die maatskappy aan al sy kontraktuele verpligtinge voldoen.

