Brekende Nuus
Nuus

Private sektor mag LNR se bek-en-klouseer-entstof vervaardig

Foto: South African Government News Agency

GAUTENG. – Kwalifiserende private maatskappye gaan toegelaat word om die Landbounavorsingsraad (LNR) se bek-en-klouseer-entstof op groot skaal te vervaardig.

Die LNR en sy raad het Maandag ’n voorstel van Willie Aucamp, minister van landbou, eenparig goedgekeur om die LNR se intellektuele eiendom onder lisensie aan private maatskappye beskikbaar te stel. Die besluit is daarop gemik om meer entstof beskikbaar te stel terwyl Suid-Afrika steeds die bek-en-klouseer-uitbreking hanteer. 

Die LNR kan tans weens vervaardigingsbeperkings nie genoeg van sy entstof op groot skaal vervaardig nie. Private maatskappye sal daarom, ingevolge voorwaardelike lisensie-ooreenkomste, die LNR se tegnologie en intellektuele eiendom kan gebruik om die entstof self te vervaardig. Dit beteken nie dat private maatskappye bloot die LNR se bestaande fasiliteite gaan gebruik nie. Die LNR sal terselfdertyd voortgaan om sy eie vervaardigingskapasiteit uit te brei.

Aucamp sê die besluit is ’n belangrike stap om die beskikbaarheid van die entstof te verhoog en Suid-Afrika se veesektor en voedselvoorsiening te beskerm. Enige inkomste wat die LNR uit die lisensie-ooreenkomste ontvang, sal volgens die departement afgesonder word en slegs gebruik word om die LNR se eie vervaardigingskapasiteit uit te brei. Die LNR sal in Oktober ook virusmonsters van bek-en-klouseer wat tans in Suid-Afrika voorkom, aan die Pirbright-instituut in die Verenigde Koninkryk stuur vir verdere entstofpassingstoetse. Dit sal help om wetenskaplik te bepaal hoe geskik plaaslike en ingevoerde entstowwe is teen die virusse wat tans in Suid-Afrika voorkom.

Bronne: South African Government News Agency, National Department of Agriculture