NOORDWES. – Hannetjie van Zyl (55) is dood nadat sy Maandagaand (5 Oktober) op ’n plaas aan die Doornpan-pad in Noordwes aangeval is. Dit blyk asof Van Zyl en haar man gedurende 2020 ook die slagoffers van ‘n plaasaanval was.
Ian Cameron, voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, sê Van Zyl is kort ná 19:00 aangeval nadat sy by die hek van die plaas gestop het om dit oop te maak. Volgens inligting is sy deur haar aanvaller of aanvallers oor die kop geslaan. Sy is daarna na ’n hospitaal gehaas. Cameron het bevestig dat Van Zyl nie haar beserings oorleef het nie. Hy het sy medelye met Van Zyl se familie, vriende en die boerderygemeenskap betuig. Hy het ook gesê landelike polisiëring, misdaadintelligensie, behoorlik toegeruste speurders en funksionerende landelike veiligheidstrukture is belangrik.
Sers. Kelebogile Morake, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die polisie is ná ’n klag van ’n moontlike plaasaanval na die Doornpan-plaas. Met hul aankoms is hulle ingelig dat die vrou deur haar man na ’n hospitaal in Klerksdorp geneem is nadat sy beserings opgedoen het. Sy het later aan haar beserings beswyk. Volgens die polisie is die vrou glo met ’n onbekende voorwerp gesteek terwyl sy probeer het om ’n hek oop te maak. Die omstandighede van die aanval word ondersoek. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.