Brekende Nuus
Nuus

Trump-regering wil glo byna R17 m. aan AfriForum gee

Foto: Ter illustrasie

VSA. – Die Amerikaanse president Donald Trump se regering is glo van plan om byna US$1 miljoen (ongeveer R17 miljoen) aan die Suid-Afrikaanse burgerregteorganisasie AfriForum toe te ken om beweerde diskriminasie en geweld teen Afrikaners en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika te ondersoek. Dit volg nadat die Amerikaanse ondersoekende nuusorganisasie ProPublica op 5 November ’n ondersoek oor die moontlike befondsing gepubliseer het.

Volgens ProPublica beloop die beoogde toekenning US$986 500 en sal dit uit die Amerikaanse departement van buitelandse sake se menseregtebegroting kom. Die projek sal glo fokus op die dokumentering van geweld, haatspraak en beweerde diskriminasie teen minderheidsgroepe, asook hul toegang tot geregtigheid en beskerming deur wetstoepassingsowerhede. 

Die befondsingsproses het aanvanklik betrekking gehad op Lex Libertas, ’n organisasie wat deur Ernst Roets, ’n voormalige AfriForum-bestuurder, gestig is. Ná kritiek oor die aanvanklike plan is ’n openbare aansoekproses ingestel. ProPublica berig dat AfriForum nou glo as die beoogde ontvanger geïdentifiseer is. 

Volgens ProPublica verstaan AfriForum dat die befondsing nog nie afgehandel is nie. Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het ook nie bevestig dat die geld reeds aan die organisasie toegeken is nie. 

Die moontlike befondsing kom te midde van gespanne betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA oor onder meer bewerings van rassisme, diskriminasie en geweld teen Afrikaners.