CLANWILLIAM – Niklaas Meyer is deur die Clanwilliam-streekhof tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die poging tot moord op sy vrou, Louisa Meyer, wat hy tydens ’n huishoudelike rusie herhaaldelik met ’n mes gesteek het.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die vonnis Maandag 9 November 2026 verwelkom en dit as ’n belangrike oorwinning in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld beskryf.
Die voorval het op 11 Mei 2025 by die egpaar se woning op De Lille-plaas in Clanwilliam plaasgevind. Volgens getuienis was Meyer kwaad omdat hy vermoed het sy vrou was ontrou, haar daarvan beskuldig het dat sy haar selfoon vir hom wegsteek en beweer het dat sy nie na hom luister nie.
Kinders getuig teen hul pa
Die egpaar se twee kinders, Owen Farmer en Estericia Meyer, was sleutelgetuies in die saak.
Meyer het op 16 Februarie 2026 onskuldig gepleit. Voordat die verhoor kon begin, is Louisa egter aan natuurlike oorsake oorlede.
Die kinders was aanvanklik huiwerig om teen hul pa te getuig omdat hy ná hul ma se dood hul enigste oorlewende ouer was.
Streekhofstaatsaanklaer Mark Taylor het hulle egter herinner dat hul ma tydens ’n konsultasie op 27 Januarie 2026 uitdruklik versoek het dat die vervolging voortgaan. Die kinders het daarna ingestem om getuienis af te lê.
Owen het getuig dat hy gille uit sy ouers se slaapkamer gehoor het. Toe hy die vertrek binnegaan, het hy gesien hoe sy pa sy ma, wat op die vloer gelê het, met ’n mes steek.
Toe hy probeer ingryp, het sy pa na hom gedraai. Owen het uit die huis gehardloop om iets te kry waarmee hy die aanval kon keer.
Sy suster het intussen die slaapkamer binnegehardloop en gesien hoe hul pa steeds hul ma vaspen en met die mes aanval. Sy het daarin geslaag om hom weg te stamp, waarna hy die mes laat val en uit die huis gevlug het.
Slagoffer het 60 steke benodig
Louisa is deur die plaaseienaar se seun hospitaal toe geneem.
Sy het lewensgevaarlike steekwonde opgedoen wat 60 steke vereis het. Een wond agter haar linkeroor was so ernstig dat haar oor byna afgesny is. Sy het ook steekwonde aan haar kop en onder albei skouerblaaie opgedoen. Een wond was so diep dat dit haar longe bereik het.
Meyer is later in die omgewing in hegtenis geneem.
Tydens die verhoor het hy beweer dat sy vrou hom aangeval het en dat hy haar ontwapen het. Sy kinders het dié weergawe betwis en volgehou dat hul ma ongewapen op die vloer gelê het toe hy haar gesteek het.
Die hof het Meyer se weergawe verwerp en bevind dat hy sy vrou doelbewus uit jaloesie en woede aangeval het. Die hof het ook bevind dat die wonde aan sy eie arm selftoegedien was.
Lewenslange tronkstraf Clanwilliam-hof: vorige skuldigbevindings vir aanranding
Tydens vonnisoplegging het die hof gehoor dat Meyer reeds vorige skuldigbevindings vir aanranding en die oortreding van beskermingsbevele gehad het. Louisa was telkens die klaer in dié sake.
Die hof het met die staat saamgestem dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede was wat ’n afwyking van die voorgeskrewe minimumvonnis regverdig nie.
Meyer is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Die hof het ook ’n deursoekings- en beslagleggingsbevel ten opsigte van sy vuurwapens, ammunisie en verwante dokumente uitgereik.
NVG verwelkom vonnis
Advokaat Adrian Mopp, Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het speurderkonstabel Edwill Ontong en die vervolgingspan geloof vir hul werk om die skuldigbevinding en vonnis te verseker.
Volgens Mopp stuur die vonnis ’n ondubbelsinnige boodskap dat vroue nie hul lewensmaats se eiendom is nie en dat jaloesie of verwerping nooit geweld kan regverdig nie.
Hy het beklemtoon dat die NVG daartoe verbind bly om oortreders van geslagsgebaseerde geweld streng te vervolg en vonnisse te bepleit wat die erns van hierdie misdade weerspieël.
Bron: Nasionale Vervolgingsgesag, Wes-Kaap, 9 November 2026.