GAUTENG. – Ses mans en drie vroue is Sondagaand tussen 22:00 en 23:00 in ’n viervertreksinkhuis in die informele nedersetting Jeffsville in Atteridgeville doodgeskiet. Die polisie is eers Maandagoggend omstreeks 07:30 ontbied en het al nege liggame met skietwonde in die sinkhuis aangetref.
Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê die motief vir die skietery is nog onbekend en niemand is in hegtenis geneem nie. Lt.genl. Tommy Mthombeni, Gauteng se polisiekommissaris, het misdaadintelligensie en die provinsiale opsporingspan ingespan om na die verdagtes te soek. Gauteng se eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad se moord- en roofafdeling ondersoek die saak.
Enigiemand met inligting word versoek om na vore te kom.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het kort gelede gesê genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, en lt.genl. Mthombeni, Gauteng se polisiekommissaris, is op pad na die toneel.