GAUTENG. – Dana Wannenburg, DA-raadslid, sê die Stad Tshwane het besluit om sy vlak 2-waterbeperkingstariewe uit te stel ná vertoë deur die DA en inwoners.
Die metro het op 12 November aangekondig dat die tariewe onmiddellik sou geld. Wannenburg verwelkom die besluit wat hy aangekondig het, maar sê die skielike ommeswaai laat vrae ontstaan oor hoe konsekwent die stadsadministrasie besluite neem. Sy opdatering gee geen nuwe datum vir die instelling van die tariewe nie en verduidelik ook nie wat met die aangekondigde vlak 2-watertariewe gebeur nie.
Volgens die metro het Tshwane in September sowat 34% meer as sy permanente watertoekenning en 19% meer as sy tydelike toekenning gebruik. Rand Water het die metro gevra om sy verbruik met sowat 200 miljoen liter per dag te verminder. Die stad sê die vraag na behandelde water oorskry die beskikbare voorraad en plaas druk op Rand Water se grootmaatopgaarvlakke.
Die metro se oorspronklike kennisgewing het voorsiening gemaak vir ’n aanvanklike tydperk van 30 dae en die toepassing van vlak 2-waterbeperkingstariewe volgens verbruikskategorie. Die stad het inwoners ook gevra om tuine en swembaddens sonder munisipale drinkwater te onderhou, voertuie met ’n emmer pleks van ’n tuinslang te was en lekkasies te herstel of aan te meld.

Bronne: Dana Wannenburg, Stad Tshwane

