Brekende Nuus
Nuus

Kinders in Khayelitsha moes ná aanvalle self hulp gaan soek, bevind studie

Foto: Universiteit Stellenbosch

WES-KAAP. – Die meeste kinders wat aan ’n studie oor geweld in Khayelitsha, Kaapstad, deelgeneem het, is tydens konflik deur ander kinders beseer en het min hulp van omstanders ontvang.

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Bath het met kinders van agt tot 16 jaar en hul versorgers gepraat oor wat gebeur het nadat die kinders aangerand, gesteek of geskiet is. Van die voorvalle het by die skool gebeur. Ander het gevolg op besoeke aan woonbuurte waar die kinders onwelkom was of op voortslepende konflik tussen portuurgroepe.

Yeukai Chideya, hoofskrywer en navorser aan die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing, sê sommige kinders moes met matige tot ernstige beserings huis toe stap om hulp te kry en vervoer na die hospitaal te reël. In sommige gevalle het familielede die oortreders eers gekonfronteer of vergelding gesoek voordat hulle mediese sorg vir die kind gereël het. Chideya sê die druk op seuns om hul mag te wys en hul vrees om swak voor te kom, het dit ook moeiliker gemaak om van konflik weg te stap.

Die kinders het ná die voorvalle onder meer vrees, woede en ’n begeerte na wraak beskryf. Met Wêreldkinderdag op 20 November pleit die navorsers vir samewerking tussen skole, staatsdepartemente en gemeenskapsorganisasies. Hulle stel voor dat kinders reeds op laerskool leer hoe om konflik sonder geweld te hanteer en dat versorgers ondersteuning kry om geweld te voorkom en betyds mediese hulp vir beseerde kinders te kry.

Druk hier om meer te lees.