Brekende Nuus
Nuus

Man sedert Maart vermis

Foto: Missing Person South Africa

VRYSTAAT. – Hugo du Preez se familie soek steeds na antwoorde nadat hy op Saterdag 14 Maart 2026 verdwyn het terwyl hy van Kroonstad na Gauteng gereis het. Du Preez was 43 toe hy vermis geraak het. Sy wit Volkswagen Polo is ná ’n klaarblyklike ongeluk verlate op die N1 gevind, sowat 22 km van Koppies in die rigting van Gauteng.

Volgens Missing Person South Africa was sy selfoon, beursie, skootrekenaar en klere nog in die motor. Volgens sy familie was daar sedert sy verdwyning geen aktiwiteit op sy rekeninge nie. Motoriste en vragmotorbestuurders wat daardie dag op dié deel van die N1 gereis het, word gevra om na vore te kom. 

Die familie probeer ook ’n WhatsApp-boodskap opspoor waarin iemand glo kort ná sy verdwyning gesê het dat hulle Du Preez sien loop het. Hulle vra dat enigiemand wat die boodskap onthou, ’n skermgreep daarvan het of weet wie dit geplaas het, die ondersoekbeampte moet kontak.

Volgens die familie het ’n private toets aangedui dat vlekke wat hulle in die motor opgemerk het, bloed bevat. Dit is onbekend wie se bloed dit was of hoe dit daar beland het. Du Preez is sowat 1,6 m tot 1,7 m lank, met ’n medium bou, bruin hare, blou oë en ’n gryserige baard. Hy het tatoeëermerke van ’n dolfyn en ’n oog op sy arms, asook ’n vis op sy kuit.

Enigiemand met inligting kan kapt. Lategan van die Koppies-polisie by 082 466 7966 of Missing Person South Africa by 068 176 9574 bel.