Brekende Nuus
Nuus

Lewensredder smelt harte met redding van hond

Foto's: Jace Govender en skermgreep van video

KWAZULU-NATAL. – Lewensredder Mnqobi Nxumalo het mense se harte aangegryp toe hy ’n hond wat in Brighton Beach in Durban deur ‘n seestroom meegesleur is, veilig met sy reddingsplank strand toe gebring het. Die hond het agter ’n stok aangeswem wat kinders in die water gegooi het en het al verder van die strand af gedryf.

Jace Govender het Nxumalo ’n kampioen genoem en video-opnames en ‘n foto van hom op sosiale media gedeel. Zoë Solomon het ’n ooggetuie se weergawe gedeel waarin dié vertel hoe Nxumalo sonder huiwering sy reddingsplank gegryp en deur die sterk branders na die hond geroei het. Lucinda Tabrett het hom as ’n ware held beskryf. Sy het gesê sy het vir hom ’n pizza en koeldrank vir sy skof gestuur om dankie te sê.