KWAZULU-NATAL. – ’n Man, vermoedelik in sy vyftigs, is Vrydagaand (27 November) ernstig beseer nadat hy na bewering in Durban gekaap en verskeie kere met ’n mes gesteek is voordat die vermeende kapers met die voertuig teen ’n Ferrari gebots het.
Volgens ALS Paramedics het hulle kort ná 20:15 op die botsing by die kruising van Umgeni- en Gobleweg in Durban gereageer.
Met hul aankoms het paramedici twee erg beskadigde voertuie in die pad aangetref. Die beseerde man, wat verskeie steekwonde opgedoen het, is in een van die voertuie aangetref.

Paramedici het die man op die toneel gestabiliseer voordat hy na ’n nabygeleë hospitaal vir verdere behandeling geneem is.
Die man het aan paramedici vertel dat hy in Newlands gekaap is. Hy is glo verskeie kere met ’n mes gesteek terwyl die vermeende kapers probeer wegkom het.
Die voertuig waarin hy was, het daarna teen die Ferrari by ‘n kruising gebots.
Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens was op die toneel en sal die bewerings verder ondersoek.
Bron: ALS Paramedics, soos op Arrive Alive gepubliseer