GAUTENG. – AfriForum het ’n interne appèl by die plaaslike departement van vervoer ingedien, nadat sy aansoek om inligting oor die beoogde nuwe nommerplate vir die provinsie nie binne 30 dae beantwoord is nie.
Die organisasie wil weet wat die koste en herregistrasiekoste motoriste gaan kos, hoe lank eienaars tyd sal hê om hul nommerplate te vervang en op watter navorsing bewerings oor verbeterde padveiligheid berus. Die organisasie meen die projek kan duur wees, met min werklike voordele.
Louis Boshoff, die organisasie se veldtogbeampte, sê in ‘n verklaring beter wetstoepassing en nie nuwe nommerplate nie, sal wel misdaad beperk. Premier Panyaza Lesufi dryf die projek. Die nommerplate word reeds sedert Junie op regeringsvoertuie geïnstalleer en moet teen Desember provinsiaal op ander voertuie uitgebrei word.
“Daar is meer as drie en ’n half miljoen voertuie in Gauteng. Dit beteken dat die premier om en by sewe miljoen nuwe nommerplate vervaardig wil hê, maar hy is nie eens bereid om bekend te maak hoeveel dit sal kos nie – dit is onaanvaarbaar,” sluit Boshoff af.
Druk hier en hier om meer te lees.
Nuusflits het kommentaar van Gauteng-regering gevra.





