MPUMALANGA. – Twee afsonderlike ongelukke het vanoggend (Maandag) die lewens van 11 persone geëis. Vier persone het op die R547 tussen Kinross en Kriel gesterf en sewe mense is dood op die N12 tussen Delmas en Emalahleni.
Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê die bestuurder van ‘n sedan het op die R547 gesterf toe die motor buite beheer van die pad geloop en omgeslaan het. Twee passasiers is ernstig beseer en na die Evander-hospitaal geneem.
In die tweede ongeluk het twee vragmotors, waarvan een omskep is om plaaswerkers is te vervoer, met mekaar gebots het. Sewe persone het gesterf, vyf is ernstig beseer en elf het ligte beserings opgedoen. Aanvanklik is berig dat ses gesterf het, maar owerhede het later bevestig dat ‘n sewende passasier in die hospitaal beswyk het.
Jackie Macie, die LUR van die departement, waarsku motoriste om waaksaam op die paaie te wees. “Ten spyte van al die pogings wat die regering en sy entiteite aanwend om padongelukke te verminder, neem die sterftesyfer steeds toe. Dit is noodsaaklik dat alle padgebruikers hul plig doen deur waaksaam te wees en die reëls na te kom. Meer as 80 persent van botsings word deur menslike gedrag veroorsaak en ongelukkig eis roekeloosheid die lewens van onskuldige mense.”





