Paul Lückhoff, ‘n bekende akteur, is Dinsdagoggend in die ouderdom van 71 na ‘n kort siekbed oorlede.
Lückhof sal onthou word as Wimpie du Toit in Binnelanders, maar was in verskeie produksies wat die verhoog, televisie en rolprente insluit, te sien.
Johan Delport het ‘n amptelike verklaring uitgereik:
Bekende en geliefde akteur, Paul Lückhoff (1953-2024), is vanoggend oorlede na ‘n kort siekbed.
Paul was veral bekend vir sy rol as Wimpie du Toit in kykNET se Binnelanders.
Op die kassie was hy ook onder meer te sien in: Hopeville, Moeggeploeg, Arsenaal, Dryfsand, Fees van die Ongenooides, Onder Draai die Duiwel Rond en Plek van die Vleisvreters.
Paul was veral ook geliefd en bekend vir sy uitstekende vertolking van verskeie rolle op die verhoog, onder meer in Fiela se Kind as Elias, en Saul in Kringe in ‘n Bos.
Paul laat ‘n groot leemte, nie nét in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf nie, maar ook in die harte van sy vriende, kollegas en elke kyker wat hom oor die jare ondersteun het.
Binnelanders het sy afsterwe met ‘n sosialemediaplasing bevestig:
Dis met groot hartseer wat Binnelanders van Paul Lückoff se afsterwe verneem het. Hy was ‘n geliefde en gerespekteerde lid van die span wat in sy leeftyd diep spore in die bedryf getrap het.
Ons sal hom altyd onthou as oom Wimpie wat nie gehuiwer het om ‘n ding by sy naam te noem nie, of iemand nou daarvan gehou het of nie. Maar Wimpie het ‘n hart van goud gehad – nes Paul Lückhoff wat die karakter so geliefd gemaak het by Binnelanders se kykers. Ons sal hom altyd onthou.