Allé Lombard, byna twee jaar oud, is met breinontsteking steeds in ’n koma in ’n pediatriese intensiewesorgeenheid. Haar familie sê ’n tweede MRI-skandering het Maandag gewys dat die swelling in haar brein toegeneem het. Dit is nog onseker of en wanneer sy sal wakker word en hoe haar breinfunksie sal herstel.
Anri Lombard, Allé se ma, sê vanoggend op die Bid vir Allé Facebook-blad die kleuter het ‘n moeilike nag gehad en haar toestand is steeds kritiek. Sy het ná ’n MRI-skandering en deur die middag swaar asemgehaal. Buiten suurstoftoediening vir asemhalingsondersteuning het sy weer ‘n stuiptrekking gehad en moes die mediese span weer koors behandel en haar tydelik sedeer om haar brein ‘n ruskans te gun in die hoop dat die swelling sal afneem.
Teen vroeër vanoggend was Allé rustig en het haar temperatuur begin daal. Haar familie bedank almal vir hul liefde en gebede en vra dat mense aanhou om vir haar te bid.
Volgens Anri het Allé se toestand op 12 November skielik versleg nadat sy ’n dag of twee siek was. Sy het koorsstuipe gekry, kon nie meer self sit of staan nie en is na ’n hospitaal in Pretoria geneem. Sy het ná haar opname in intensiewesorg weer stuipaanvalle gekry en is later na ’n ander hospitaal se pediatriese waakeenheid oorgeplaas.
Volgens Anri se plasings op die Facebook-blad is Allé met akute nekrotiserende enkefalitis (ANE), ’n seldsame vorm van breinontsteking, gediagnoseer. Die neuroloog het verduidelik dat haar immuunstelsel, terwyl dit die herpesvirus beveg, ook teen haar eie breinselle reageer. Sy ontvang antivirale medikasie, teenliggaampies, kortisoon en medikasie om haar koors te beheer. Daar is ook gevind dat haar fosfaatvlakke laag is en alhoewel sy deur die voedingsbuis aanvulling ontvang het, was dit steeds onvoldoende en wou dit voorkom of dit haar kolon en rektum irriteer. Landwyd word ‘n tekort ondervind, maar Unitas-hospitaal kon met voorraad help om dit per drup aan Allé toe te dien.
’n EKG het die linkerkant van Allé se brein minder aktief as die regterkant bevind. Haar neuroloog was, soos Anri vertel, in daardie stadium minder bekommerd oor dié verskil en het gesê haar toestand lyk beter as wat hy aanvanklik verwag het.
Haar ouers, Anri en Barend Lombard, vra dat mense aanhou bid dat die swelling afneem, dat Allé uit die koma wakker word en dat sy sonder permanente skade herstel. Hulle beskryf haar as ’n plaaskind wat lief is vir haar familie en haar diere. Haar babasussie, Alri, is op 5 Oktober gebore.
Hier is Maandagmiddag se plasing deur Anri oor Allé se mediese toestand:
Bly asseblief bid vir Allé. MRI van vanoggend wys swelling op brein is ongelukkig meer, en heel moontlik as gevolg daarvan het sy nou weer bietjie van ‘n episode gehad waar al haar vitals gespike het en hul haar weer op suurstof moes sit. Dit kon dalk ‘n convulsion gewees het want haar lyf het baie styf geword. Hul het haar behandel daarvoor. Hul gaan ook nou ander medikasie addisioneel gee om te help met die swelling op die brein. Haar ogies was klein bietjie oop gedurende dit. Haar voeding gaan ook nou weer stop. Ons moet nou wag en kyk wat doen die medikasie vir die swelling. Haar pupille reageer nog.”
“Die neuroloog, dr. Lam, het Allé ondersoek en haar toestand en behandeling aan die familie verduidelik.
1. Wat gebeur in Allé se brein?
By kinders tussen 2 en 3 jaar is die immuunstelsel nog nie altyd baie spesifiek in hoe dit infeksies beveg nie.
In Allé se geval beveg haar liggaam die herpesvirus, maar haar immuunstelsel val ongelukkig ook haar eie breinselle aan. Dit veroorsaak ’n ernstige, abnormale immuunreaksie en ontsteking in haar brein.
2. Watter behandeling ontvang sy?
Allé ontvang reeds verskeie behandelings:
* Medikasie om die virus te beveg.
* Kunsmatige teenliggaampies om haar liggaam te help.
* Kortisoon om die immuunreaksie en ontsteking te onderdruk.
* Medikasie om haar koors onder beheer te hou.
Haar koors is tans mooi onder beheer en die dokters probeer haar toestand so stabiel moontlik hou.
3. Allé is in ’n koma
Die neuroloog het verduidelik dat Allé nie bloot weens die medikasie slaap nie, maar dat sy tans in ’n koma is.
Hoewel dit baie ernstig is, gee dit haar brein ook die geleentheid om te rus.
Die dokters wil ongeveer vyf dae vanaf die begin van haar spesifieke behandeling verloop laat voordat hulle haar reaksie verder beoordeel. Hulle weet nog nie of sy sal wakker word, wanneer dit sal gebeur of hoe haar breinfunksie daarna sal wees nie.
4. Wat wys die breinondersoeke?
Die virus affekteer ’n gedeelte van haar brein wat by belangrike outomatiese liggaamsfunksies betrokke is, soos asemhaling en hartfunksie.
Die EEG het ook gewys dat die linkerkant van haar brein minder aktief is as die regterkant. Die neuroloog is egter nie op hierdie stadium besonder bekommerd oor dié verskil nie.
5. Wat is die positiewe nuus?
Die neuroloog het beklemtoon dat Allé beter lyk as wat hy aanvanklik verwag het.
Sy leef steeds, haar toestand word gestabiliseer en sy is nie op ’n ventilator nie. Dit is belangrike positiewe tekens, veral omdat ander kinders met soortgelyke ernstige toestande soms reeds in hierdie stadium oorlede is of asemhalingsondersteuning benodig.
Die dokter het selfs gesê dat hy dink Allé gaan oorleef, maar hy kan nog nie voorspel hoe haar herstel of toekomstige breinfunksie gaan lyk nie.
6. Wat gebeur volgende?
Die dokters het tans die beskikbare behandeling ingestel. Die volgende paar dae is baie belangrik om te sien hoe haar liggaam en brein reageer.
Verdere ondersoeke na haar immuunstelsel en moontlike immuunbehandeling sal later oorweeg moet word, aangesien hierdie reaksie nie normaal is nie.
Waarvoor kan ons bid?
Die neuroloog het die familie aangemoedig om aan te hou bid en hoop te behou.
Ons bid spesifiek dat:
* Allé se breinontsteking sal afneem en haar liggaam die virus sal oorwin.
* Haar toestand stabiel sal bly.
* Sy uit die koma sal wakker word.
* Haar breinselle en breinfunksie sal herstel.
* Sy volkome gesond sal word, sonder permanente skade.
Die belangrikste boodskap: Allé is steeds kritiek siek en haar prognose is onseker, maar daar is positiewe tekens. Die neuroloog is hoopvol dat sy sal oorleef. Die grootste onsekerheid is tans hoe haar brein sal herstel. Ons hou aan glo, hoop, bid en vas vir klein Allé.