GAUTENG. – Adv. Andrea Johnson, voormalige hoof van die NVG se ondersoekdirektoraat teen korrupsie (Idac) en genl.maj. Feroz Khan, voormalige adjunkhoof van misdaadintelligensie, is in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met regsverydeling. Die inhegtenisnemings hou glo verband met sake wat ook voor die Madlanga-kommissie van ondersoek ter sprake gekom het.
Volgens eNCA is die lasbriewe vir hul inhegtenisneming Donderdag (29 Oktober) gemagtig. Hulle is vanoggend (Vrydag) in hegtenis geneem en sal na verwagting in die Pretoriase landdroshof verskyn. Die polisie en die NVG het teen die tyd van publikasie nog nie die inhegtenisnemings amptelik bevestig nie.
Johnson het in Julie as hoof van Idac bedank ná getuienis voor die Madlanga-kommissie. Khan is uit die polisiediens ontslaan nadat hy nie voor die aangewese senior beampte in sy dissiplinêre proses verskyn het nie. Die kommissie het ook ondersoek ingestel na die verhouding tussen die twee en hul onderskeie rolle in sake wat voor die kommissie gedien het.
Bronne: Yusuf Abramjee, eNCA en IOL