Appel se skoonpa aangerand, verdagte gesoek

Lees ook :

Foto's: Appel

GAUTENG. – Appel, die sanger, vra hulp om ‘n verdagte man, wat Saterdagaand sy skoonpa Deon (63) aangerand het, op te spoor. Die verdagte, vermoedelik in sy laat 20’s of vroeë 30’s, ry ‘n silwerkleurige ou model Nissan Navara.

Kapt. Johan van Dyk sê aan Nuusflits die insident het in Sefako Makgatho-rylaan, tussen Visvanggerstraat en die N1 Montana Park, gebeur. Die slagoffer het van Hennies-restaurant gekom en links in Sefako Makgatho-rylaan (Zambezi-rylaan) gedraai. Hy het besef hy het na die verkeerde rigting gedraai en het ‘n U-draai na die N1 by Phyllisstraat gemaak, sodat hy wel in die rigting van die N1 kon ry. ‘n Silwerkleuige Nissan Navara het hom gevolg. Die slagoffer het by Visvangerstraat stilgehou, waarna die verdagte uit die Navara-bakkie geklim, drie skote geskiet en die slagoffer begin aanrand het. Die slagoffer is met die handwapen geslaan. Die slagoffer het in een rigting gevlug, terwyl die verdagte deur die Zambezi-tolhek gery het. Die slagoffer is vir mediese hulp na die Wilgers-hospitaal geneem.

Deon is met ‘n hematoom in sy gesig in die hospitaal opgeneem: “Die bloeding in sy gesig het ’n omvangryke hematoom veroorsaak, en daar is ook bloeding onder die veloppervlak wat ’n infeksie kan ontwikkel. Ons wag tans vir verdere spesialisbehandeling en monitor hom noukeurig.”

Appel (Christoph Kotze) versoek die gemeenskap, motorhandelaars en veiligheidsinstansies regoor die land om vir die verdagte op die uitkyk te wees. Die Navara het nog nie ‘n registrasieplaat nie, maar wel ‘n tydelike nommerplaat in die agterruit, wat aandui dat dit moontlik onlangs gekoop is. Enigiemand met relevante inligting van die verdagte en die bakkie kan Appel op Facebook kontak, of dadelik met die Sinoville-polisiestasie, waar ‘n saak oopgemaak is, in verbinding tree.

Deon en sy vriende was volgens die sanger by ‘n doekebraai en daarna by Hennie’s-restaurant in Zambezi-rylaan, waarna hulle kort na 24:00 vertrek het. Die verdagte het agter Deon en sy vriend begin skiet. Deon se vriend, Wentzel, het verby hom gejaag en geskree die verdagte skiet op hulle.

Die verdagte het hierna tot langs Deon gery en sy voertuig aan die bestuursderskant gestamp. Hy het vir Deon met ‘n vuurwapen in die gesig geslaan, waarna Deon weggejaag het. Met dié wat Deon weggejaag het, het die verdagte in die pad geval. Wentzel is presies om 00:20 deur die tolhek. By Atterbury-rylaan het die verdagte weer verby Wentzel gery. Hy het volgens Appel omstreeks 00:28 verby McDonald’s by Pretoria Gateway gejaag. Appel sê voorts dit lyk asof die verdagte nie noodwendig by Hennie’s of by Jan se Skuld was nie, maar kon heel moontlik reeds vroeër in die gebied van Zambezi-rylaan en sy omliggende gebied gery het.

Die sanger vra enige persoon of instansie wat CCTV-kameras het in die betrokke gebiede wat genoem is, om dit na te gaan en enige beeldmateriaal aan die polisie beskikbaar te stel.

“Ek wil dit duidelik stel. Daar was geen kroeggeveg of enige vorm van konfrontasie nie. My skoonpa is ’n vredeliewende, kalm mens. Hy dra geen haat nie, soek nooit konflik nie, en is nie aggressief van aard nie. Hierdie aanvaller was iemand met ’n kort lont, en my skoonpa het hom ongelukkig in sy spervuur bevind. Daar is geen plek vir sulke roekelose gedrag in ’n beskaafde samelewing nie. Ek bid dat geregtigheid sal seëvier, en dat hierdie persoon tot verantwoording geroep sal word. Dankie aan elkeen wat hierdie boodskap deel, vir julle ondersteuning en vir elke bietjie inligting wat reeds ingekom het. Ons waardeer dit opreg.”

Appel bedank kol. De Jager van Sinoville-polisiekantoor wat uitsonderlike diens gelewer het: “Sy optrede is niks minder as uitsonderlik nie. Hy tree met erns, vinnigheid en professionaliteit op. ’n Ware yster van ’n man.”

Nuusflits het polisiekommentaar gevra.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief