Tayla Venter en Addie Jacobs se klein De Wet is gebore. “Hello wêreld! Ek is De Wet Adriaan Jacobs,” lui die eerste inskrywing op sosiale media van die babaseun wat op 25 Mei 2026 kort ná 17:00 gebore is. Die paartjie het Ava, hulle babadogter van 1 jaar en drie maande, vroeg in 2025 aan die dood afgestaan.
De Wet het ná geboorte vir asemhalingsondersteuning een nag in die neonatale intensiewesorgeenheid (NICU) vir waarneming deurgebring. Tayla het gesê haar babaseun is sterk en gesond en het speels gedeel dat hy die verpleegpersoneel “besig gehou” het.
Lees Tayla se boodskap hier: Hi almal. Boetie De Wet is gebore. Ek en hy is okay. Hy is ongelukkig NICU toe nadat die dokters gesê het hy het Nat Long Sindroom. Hy is tans op ’n CPAP-masjien om hom met asemhaling te help, en hulle sê hy gaan moontlik tot Woensdag daar moet bly. Hulle het ook X-strale en bloedtoetse gedoen omdat sy suurstofvlakke val wanneer hy van die suurstof af is. Ek herstel nog van die c-section, maar sodra ek kan loop, gaan ek by hom wees. Tot dusver het ek hom net vir 5 minute na geboorte gesien voordat hulle hom moes vat. Dis nie hoe ek gedink het ons eerste oomblikke saam gaan lyk nie, maar ek weet hy is in goeie hande. Dankie vir elke boodskap, gebed en inloer. Ons waardeer dit meer as wat julle besef. Ek hou julle op hoogte.”
Gister het Tayla foto’s van hulle babaseun gedeel en speels gevra: “Pappa…wanneer gaan ons jag?”
‘n Paar uur gelede het Tayla nog foto’s, hierdie keer van die kleinding saam met sy gesin, gedeel. Sy sê dat ‘n gesonde kind ‘n genadegawe is. “Een ding wat die lewe ons as gesin geleer het, is dat ’n gesonde kind nooit vanselfsprekend is nie, dit is ’n genadegawe, ’n blessing uit Pappa God se hande. Elke asemteug, elke klein geluidjie, elke oomblik saam met hom voel vir ons kosbaar. Ons neem niks meer as ’n gegewe nie. Ons leef stadiger. Ons waardeer die klein goed meer. Dankbaar dat ons weer met so ’n groot wonderwerk geseën is. Dankbaar vir ’n gesonde seuntjie. Dankbaar dat Pappa God ons as gesin gekies het om hom lief te hê, groot te maak en saam met hom deur die lewe te stap. De Wettie, ons het jou reeds so lief! Pappa God weet wat hy doen.”
Tayla en Addie het laat in 2025 aangekondig dat hulle in Junie 2026 nog ‘n baba verwag. hulle het die blye nuus van hulle swangerskap met foto’s aangekondig. Buiten Ava het hulle nog ‘n dogtertjie.
Ava se lewe en afsterwe is wyd op sosiale media gedeel. Sy het onder meer ‘n harttoestand gehad en het veelvuldige hartoperasies ondergaan en was ook met pulmonêre aarstenose gediagnoseer. Haar hart het aan die verkeerde kant van haar lyfie gesit. Sy was op 24 November 2023 met heterotaksie-sindroom/ dextrocardia situs inversus (die abnormale rangskikking van organe) en ‘n dubbele uitlaat-regterventrikel gediagnoseer.





