WES-KAAP. – Jan Francois Kotze (76) en sy vrou, Sandra Harrie Kotze (76), van Rondebosch in Kaapstad is vermis, sedert hulle Saterdagoggend hul huis verlaat het om ontbyt te gaan eet. Volgens die groep Missing Person South Africa word die publiek se hulp gevra om hulle op te spoor.
Die egpaar het volgens die inligting Saterdag omstreeks 11:00, hul huis in Parkweg, Rondebosch, verlaat. Hulle het sedertdien nie weer na die huis teruggekeer nie. Die egpaar het in ’n donkergrys Fiat 500X-sportnutsvoertuig met die registrasienommer CFM 68158 vertrek. Die familie is bekommerd oor hul veiligheid en doen ’n beroep op die publiek om enige moontlike leidrade aan te meld. Inwoners, motoriste, ondernemings en veiligheidsmaatskappye in Rondebosch en omliggende gebiede word versoek om kringtelevisie na te gaan vir enige moontlike beeldmateriaal van die egpaar of hul voertuig.
Enigiemand met inligting oor Jan of Sandra se moontlike verblyfplek kan Melissa by 060 997 8714 kontak. Inligting kan ook by die naaste polisiekantoor aangemeld word.
Bron: Missing Person South Africa





