NOORDWES. – Jacobus Petrus Theunissen (74) het iewers gedurende Vrydagnag/Saterdagoggend gesterf nadat hy in sy huis op sy plaas op Rashoop, Mamogaleskraal, geskiet is. Die bejaarde man het alleen gewoon en sy liggaam is Saterdag deur sy seun gevind.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die liggaam is ongeveer 15:30 aangetref, waarna die polisie in kennis gestel is. Daar kon nog nie bevestig wat wet is nie. Theunissen is aan die regterkant van sy lyf geskiet en is op die toneel dood verklaar.
Luidens ‘n verslag van Stephan Roos van AfriForum in Brits het die oorledene alleen gewoon en is die plaas reg langs Tin City informele nedersetting. Roos waarsku oor misdaad gedurende die feesseisoen en moedig waaksaamheid aan. “As u braai of kuier, hou u wapens byderhand, ook so u radio’s. Maak seker u elektriese heinings en beams is aan en hou u paniekknoppies naby. Dit klink miskien oorbodig, maar dit kan dalk net u lewe red. Wees waaksaam en paraat.”
Roos sê in nog ‘n poging tot ‘n plaasaanval in Zandfontein het ‘n onbekende aantal verdagtes Vrydagnag ‘n venster gebreek om toegang tot ‘n huis te probeer kry. Die bejaarde inwoner kon ‘n noodoproep na AfriForum se radionetwerk maak en sy kon binne vyf minute bygestaan word. Die verdagtes het onverrigter sake van die toneel gevlug. Roos bevestig die dame het trauma ondervind, alhoewel sy andersins ongedeerd aangetref is.





