WES-KAAP. – ‘n Bejaardes egpaar – die man 77 en die vrou 71 jaar oud – is Woensdag ná ‘n beweerde plaasaaval in Glen Loerie, The Crags, met veelvuldige beserings dood aangetref. ’n Verdagte man (34) van The Crags is in hegtenis geneem.
AO Christopher Spies sê ondersoek is ingestel toe ’n Mercedes-Benz, vermoedelik betrokke by die aanval, omstreeks 18:50 deur ‘n nommerplaatherkenningskamera opgemerk is waar dit vinnig op die R339 ry. Die spesifieke voertuig wat in die rigting van Uniondale gery het, is later in ’n plaaslike WhatsApp-veiligheidsgroep gesirkuleer. Polisiebeamptes het die voertuig se besonderhede gebruik en die geregistreerde eienaar se adres bekom, waar hulle op die bejaardes se liggame afgekom het.
Die voertuig is deur samewerking deur die polisie en die gemeenskap opgespoor waar dit naby Uniondale omgeslaan en die bestuurder op vlug geslaan het. Hy is egter opgespoor en in hegtenis geneem en sal in die hof verskyn sodra hy aangekla is.
Beide misdaadtonele is vir leidrade gefynkam. Die motief vir die aanval is onbekend en vorm deel van die ondersoek. Enigiemand met relevante inligting word gevra om die polisie te kontak.





