MPUMALANGA. – Jacques Jacobus Alwyn Botha (33) is Donderdag 20 jaar tronk toe gestuur vir die moord op Zodwa Angelina Sibiya (39), ‘n sekswerker, op die plaas Vogelspruitspoort naby Belfast op 18 Oktober 2024.
Lt. kol. Jabu Ndubane sê Botha is vir die brutale moord in die Mpumalanga-hooggeregshof in Breyten, naby Ermelo, gevonnis. Op die betrokke dag het Botha die sekswerker, omstreeks 19:30 in ‘n straat in Belfast opgelaai. Hy het haar na die plaas geneem waar beide gedrink en daarna intiem verkeer het. Die beskuldigde en oorledene het hul drinkery in die sitkamer hervat, totdat Sibiya besope was en geluide gemaak het wat Botha irriteer het. Hy het haar verskeie kere sonder sukses probeer stilmaak en het haar glo later gegryp en na een van die slaapkamers geneem terwyl sy onbeheerbaar aanhoudend geluide gemaak het. Hy het selfs sonder sukses probeer om haar te laat slaap, waarna hy haar met sy hande en haar onderklere gewurg en sy haar bewussyn verloor het. Nadat hy besef het sy is dood, het hy die liggaam in ‘n mat toegedraai en in ‘n gat gegooi wat hy met klippe toegepak het.
Botha se gewete het hom egter gepla en hy het homself aan die polisie oorhandig.
Sibiya se liggaam is uit die gat gehaal en sy is later geïdentifiseer met nog inligting dat sy van Emthonjeni (Watervalboven) is. Botha is deur die hof skuldig bevind en op aanklag van moord tot 18 jaar en op aanklag van regsverydeling ‘n verdere sewe jaar tronkstraf gevonnis. Die hof het beveel dat vyf jaar van die vonnis van regsverydeling gelyktydig met die 18 jaar van die moord uitgedien moet word, dus sal Botha effektief 20 jaar in die tronk deurbring. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Lees ook: Post mortem van baba wat glo onder pa sterf, steeds afgewag





