GAUTENG. – Arynn was slegs 6 maande oud toe hy op 25 Januarie by Gordon Rorke (39), sy pa, in Capital Park, Wonderboompoort-polisiëringsgebied, gekuier en gesterf het. Rorke het glo bo-op sy babaseun wakker geword. Die nadoodse ondersoekverslag om die oorsaak van die baba se dood vas te stel, word steeds afgewag.
Kapt. Johan van Dyk sê aan Nuusflits die pa het toe hy wakker word en sy baba leweloos by hom op ‘n sitkamerbank aantref, dadelik sy ouers en die Wonderboompoort-polisiestasie vir hulp ontbied. Van Dyk verduidelik dit was die pa se beurt om sy baba vir die naweek by hom te neem. Hulle het die dag saam deurgebring en was die aand saam in die sitkamer. Die slapende baba is op die bank neergesit, maar het later huilend wakker geword. Sy pa het hom toe met ‘n bottel gevoed en op die mat met hom gespeel, waarna hy hom later op sy bors gesit het, terwyl hulle na musiek geluister en beide aan die slaap geraak het.
Rorke het weer wakker geword en glo besef hy lê op die lewelose baba, waarna hy dadelik hulp ontbied het. Die baba is deur nooddienste dood verklaar en die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.
“Die pa was baie verpletter en het aanhou sê wat het ek gedoen, wat het ek gedoen. Geen gemene spel word vermoed nie en die ondersoek duur voort, in afwagting van die nadoodse ondersoekverslag.”
Loren Froud, Arynn se ma, het op 8 Februarie die volgende saam met ‘n foto van pa en seun op sosiale media gedeel:
“No words.. No description.. The purest of love for you, to a completely shattered heart and soul! This has derailed my everything. … May you live in peace every wishing day, my dear Son. You changed my world Arynn! I don’t know how to live a normal life after losing you. this is all too f*k*ng much. God! Give me a break!”
Van Dyk bevestig gemene spel word nie vermoed nie, maar die ondersoek duur voort.






