’n Wit Ford Figo en swart Toyota Auris het omstreeks 12:55 gebots, sowat 5 km voor die afdraai na Windsorton.
Die jaarlikse Windsorton-motorfietswedren vind vandag plaas. Na bewering wou die bestuurder van die Ford ’n wielpomp na ’n baanbeampte wie se band pap was, neem, en wou by ’n hek indraai. Die Toyota was op spoed en wou die Ford verbysteek toe hy die Ford se kant tref. Die Toyota het omgekeer en gerol.
’n Anonieme leser het bevestig die bestuurders is ernstig beseer tydens die ongeluk en hulle is per ambulans hospitaal toe vervoer. Dit is nog onduidelik wie die bestuurders van die motors was.