LIMPOPO. – ‘n Sogenaamde Facebook-reeksverkragter (20) is op Kersdag deur Tzaneen-GKS op aanklag van die verkragting van verskeie jong tienermeisies gearresteer.
Brig. Hlulani Mashaba sê sedert die begin van Desember is die verkragting van verskeie meisies tussen die ouderdom van 14 en 16 jaar in die Modjadjieskloof- en Bolobedu-gebiede aangemeld. Die slagoffers is na bewering deur middel van Facebook uitgelok om die verdagte te ontmoet. Hy sou dan saam met hulle stap, hulle in bosse verkrag en hulle daarna van besittings soos kontant en selfone beroof.
Een van die slagoffers het gestap toe sy glo van agter aangeval, geblinddoek, na ‘n misdaadtoneel wat voorheen gebruik was gesleep is en daar verkrag en beroof is.
Een van die slagoffers het terugbaklei, waarna die verdagte vir beserings in die Kgapane-hospitaal opgeneem is. Hy is daarna in die hospitaal gearesteer. Hy het ‘n vals ID in sy besit gehad, asook kontant en ‘n selfoon, wat teruggevind is.
Voorlopige ondersoek dui aan die verdagte was op borg vir ‘n ander verkragting van ‘n 14-jarige meisie, wat in September met dieselfde modus operandi gepleeg is.
Die verdagte verskyn vandag in die Tzaneen-landdroshof.
Mashaba sê lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris, waarsku sosiale media moet verantwoordelik gebruik word.





