Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO – SACAA) het vanoggend (Saterdag 14 Junie 2025) verduidelik dat die Aeronautical Information Circular oftewel AIC 18.19 onttrek is omdat dit nie in pas was met die burgerlugvaartregulasies van 2011 nie en ’n veiligheids- en regsrisiko ingehou het. Ten opsigte van bewerings dat 1 400 vliegtuie en 300 000 poste deur die onttrekking van die AIC geraak is, sê BLO daar is geen geloofwaardige bewyse wat dit staaf nie.
Sisa Majola, woordvoerder vir BLO, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits AIC 18.19 het sedert 2006 operateurs van die verpligte 12-jaar oordoen van enjins volgens vervaardigershandleidings vrygestel. BLO beklemtoon dat AIC’s nie wetlike bepalings kan vervang nie en dat operateurs die vervaardigers se vereistes moet volg.
Om die oorgang te vergemaklik, is ’n algemene vrystelling in Desember 2023 uitgereik en tot 26 November 2024 verleng. Daarna sal volle nakoming van CAR 43.02.5 en verwante tegniese standaarde vereis word. Dit sluit ook diensbulletins, diensbriewe en diensinligting in, veral vir enjins soos dié van Textron Lycoming en Teledyne Continental.
Die tegniese standaarde word tans deur die Civil Aviation Regulations Committee (CARCom), ’n multi-belanghebbende liggaam wat deur die burgerlugvaartwet ingestel is, hersien. BLO hou vol dat dit nie hul mandaat is om verpligte onderhoudsintervalle vas te stel nie en dat veiligheid altyd eerste kom. Tydens die hersiening is bevind dat sommige bepalings in die tegniese standaarde die rol van vervaardigers oorgeneem het deur die 12-jaar oordoen-vereiste verpligtend te maak. Die vereiste raak hoofsaaklik algemene lugvaartsektore soos ligte handelsvlugte, lugwerk en vlugopleiding en nie geskeduleerde kommersiële lugdienste nie.
Lees meer hier.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





