GAUTENG. – Adriaan Vos is Saterdagoggend vroeg op ‘n kleinhoewe in Elandsfontein, buite Glenharvie, Westonaria, aangeval en in die been geskiet. Sy houthuis is tydens die insident afgebrand.
Kol. Mavela Masondo bevestig aan Nuusflits sake van poging tot moord en brandstigting word ondersoek. Vos het volgens rapportering wakker geword en mense in sy erf gesien. Hy het na buite gegaan en terwyl hy in sy voertuig klim, is daar op hom geskiet. Hy is getref, waarna die verdagtes boonop na bewering sy huis met sy diere binne-in aan die brand gesteek het.
Vos is vir mediese behandeling na die naaste mediese sentrum geneem. Masondo sê die polisie is op die uitkyk vir die verdagtes.
Skarebefondsing is deur Jenny Stander begin om Vos by te staan. Volgens die BackaBuddy-profiel het Vos omstreeks 01:00 van moontlike beweging by sy vee bewus geword. Hy het in sy bakkie gespring om ondersoek in te stel en toe hy by sy hek kom, is hy deur gewapende aanvallers ingewag en geskiet. Koeëls het sy knie en long binnegedring. Hy kon daarin slaag om tot by ‘n ander boer te ry, waarvandaan mediese hulp ontbied is. Met die skarebefondsing word behoorlike mediese versorging vir Vos, wat tans in Ongevalle by Helen Joseph-staatshospitaal is, beoog.
Volgens die Carletonville Herald het Vos, wat alleen woon, sy buurman, Jaco Taute, gebel en gesê hy is geskiet. Hy kon tot by die Tautes ry, waar sy wonde versorg is en ‘n ambulans hom omstreeks 03:00 gekry het. Sy honde is ongedeerd by die afgebrande huis gevind, maar die voëls kon nie aan die vlamme ontsnap nie. Enigiemand wat wil help om Vos se huis te herbou, kan Taute by 082 635 2424 bel.

Foto: Veldbrand Radio

Foto: Veldbrand Radio

Foto: Jenny Stander BackaBuddy

Foto: Jenny Stander BackaBuddy