BETHAL, MPUMALANGA. – ’n Boer (48) van Bethal is in hegtenis geneem nadat hy Sondag na bewering ’n man (35) noodlottig op sy plaas geskiet het. Hy was glo onder die indruk die oorledene is ’n onwettige jagter.
Volgens kol. Donald Mdhluli, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 8:00 plaasgevind. Hy sê die oorledene was saam met ’n vriend, wat nie beseer is nie.
Die boer is op die toneel in besit van die vuurwapen gevind wat na bewering afgevuur is. Volgens die SAPD sal ballistiese toetse op die wapen uitgevoer word. Daar is glo meer as een rondte afgevuur.
Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela het die voorval ten sterkste veroordeel. Sy het die polisiebeamptes vir hulle vinnige optrede geprys.
Die boer sal na verwagting vandag in die Mpumalanga-landdroshof verskyn.
Bronne: SAPD, Algoa FM, IOL





