OOS-KAAP. – Anelle de Bruin (46), die vrou van ‘n vooraanstaande boer (56), wat glo saamgesweer het om hom tydens ‘n “plaasaanval” te laat vermoor, se saak is in die Aliwal Noord-landdroshof tot 23 April uitgestel.
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê De Bruin, wat vir sameswering tot moord aangekla is, is op 9 Januarie gearresteer en het vandag ‘n vlugtige verskyning in die hof gemaak. Die vervolging het vir uitstel in die saak gevra, aangesien daar nog verklarings, foto-albums en selfoonrekords uitstaande is. De Bruin is steeds op voorwaarde dat sy nie na die plaas terugkeer nie en met besoeke aan haar kinders onder toesig, op borg. Sy is voorheen op borg van R2 000 vrygelaat.
Die polisie het ‘n wenk van ‘n middelman ontvang wat na bewering in die soektog na ‘n huurmoordenaar deur De Bruin genader is. Volgens die polisie se ondersoek het die middelman reeds ‘n gedeeltelike betaling ontvang. Die res van die betaling sou glo ná die uitbetaling van versekeringsgelde, na die boer se dood, volg. ‘n Stemopname is na bewering gemaak waar De Bruin instruksie gee dat die familiehonde ook geskiet moet word, asook na die voertuig se bande, sodat die beplande moord op haar man soos ‘n plaasaanval moes voorkom. Geskatte reaksietyd van boere op buurplase is ook glo aan die middelman verskaf.
Tyali sê voorts De Bruin sou meer as R50 m. erf, sou haar man tot sterwe kom.
“Die NVG is ernstig om sake van hierdie aard wat die veiligheid en welstand van ons gemeenskappe raak en geregtigheid vir slagoffers van misdaad te verseker, te vervolg.”





