VRYSTAAT. – ‘n Pa (40) is deur die Kroonstad-streekhof skuldig bevind aan aanranding en crimen injuria op sy 12-jarige dogter. Hy is gevonnis tot ’n boete van R12 000 of 12 maande tronkstraf, vir vyf jaar opgeskort.
Sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder, sê die dogter was op 29 November omstreeks 09:30 op pad na ‘n plaaslike winkel. Sy het haar pa teëgekom, wat haar beledig en met oop hande geslaan het. Sy kon daarin slaag om weg te hardloop en het die saak by die polisie aangemeld. Edenville-polisiebeamptes het vinnig opgetree, die pa opgespoor en hom kort daarna in hegtenis geneem.
Speur.sers. Noliyiswa Masondo van die Tumahole-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) het die ondersoek hanteer.





