WES-KAAP. – Agt leerders van Hoërskool Milnerton het vandag (Donderdag) in die Kaapstad-landdroshof op aanklagte van aanranding van ‘n medeleerling wat wyd aandag getrek het verskyn. Ses van die beskuldigdes het in Hof 26 verskyn, terwyl twee minderjariges in Hof 19 voorgekom het. Die beskuldigdes is elk op borgtog van R2 000 vrygelaat.
Eric Natbazalila, NVG-woordvoerder, sê die ses leerders wat in Hof 26 verskyn het, word van agt aanklagte van aanranding met die bedoeling om ernstige liggaamlike beserings te veroorsaak, aangekla. Die staat het nie borgtog teengestaan nie, aangesien die beskuldigdes vaste woonadresse het, geen vorige veroordelings of hangende sake teen hulle het nie en geen lasbriewe is teen hulle uitgereik is nie. Borgvoorwaardes sluit in dat die beskuldigdes geen kontak met die klaers of getuies mag hê nie, hetsy direk of indirek. Hulle moet ook enige ontmoeting met die klaers vermy, mag nie die skoolterrein betree nie en moes hul selfone en PIN-nommers aan die ondersoekbeampte oorhandig. Vyf selfone is reeds ingedien en een moet nog binne 24 uur oorhandig word. Die beskuldigdes mag nie die klaers of getuies intimideer of aan enige verdere misdrywe deelneem nie.
Een van die minderjarige beskuldigdes is intussen reeds deur ’n maatskaplike werker geassesseer en op ‘n waarskuwing in die sorg van sy ouers vrygelaat. ‘n Tweede minderjarige wat ook reeds in sy ouers se sorg vrygelaat is, sal ook Vrydag geassesseer word.
Die saak is tot 20 Januarie 2026 uitgestel, sodat die leerlinge toegelaat kan word om hulle eindeksamen te skryf. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het bevestig dat hulle van die huis af sal studeer en hul eksamen by die Metro North-distrikskantoor sal aflê.





