OOS-KAAP. – ‘n 68-jarige branderplankryer is Vrydag ure voor die amptelike opening van die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) se nuwe Mbumbi-reddingstasie aan die Wildekus bekendgestel is, uit die see gered.
Luidens ‘n verklaring van Mike Vonk, NSRI-voorsitter, was gemeenskapsleiers, plaaslike en distriksregeringsverteenwoordigers, asook NSRI- uitvoerende beamptes deel van die seremonie. Nadat die bejaarde branderplankryer gered is, het Vonk gesê die redding herinner presies aan die doel van die NSRI. NSRI-vrywilligers Mzoxolo Gxala en Johan Stadler het die man op hul JetRIB veilig na die strand geneem.
Die Mdumbi-stasie is toegerus met ’n nuwe JetRIB en ’n 4×4-reddingsvoertuig, wat deel is van NSRI se breër missie om die kusstreke beter te dek en ’n waterveilige nasie te verseker. Vonk het gesê die stasie se ontwikkeling is die resultaat van jare se samewerking met die gemeenskap en is in 2020 begin toe die vrywilliger Simphiwe Rorwana plaaslike jongmense in reddingsvaardighede opgelei het.
Die dag het ook die ondertekening van ’n ooreenkoms tussen NSRI en die Nyandeni- plaaslike munisipaliteit ingesluit, wat die vennootskap formaliseer om waterveiligheid, reddingsopleiding en -operasies in die streek te bevorder. Banele Viwe Ndamase, burgemeester van Nyandeni, het gesê: “Ons het nog nooit so iets gesien nie. Vandag is geskiedenis gemaak.”
Hoof Sigwacu, tradisionele leier, het die vrywilligers geprys: “Ek is baie trots op die Mdumbi NSRI-vrywilligers wat vanoggend die branderplankryer gered het. Dit is presies die gees wat ons nodig het.”
Vonk het afgesluit: “Hierdie seereddingstasie behoort aan die mense van Mdumbi. Sy doel is eenvoudig – om mense veilig te hou.”





