WES-KAAP. – Michael Samuels, ‘n brandbestryder van Mithcells Plain-brandweerstasie, het Donderdagoggend baba Isaiah se lewe gered.
JP Smith, DA-raadslid, sê Samuels was aan diens toe hy van ‘n baba in nood, by ‘n naburige huis, ingelig is. Crachet Scala het kort daarna met haar baba by die brandweerstasie opgedaag. Samuels het die baba se lugweë nagegaan en ‘n blokkasie in sy keel verwyder, wat dadelik verligting gebring het.
Baigum Abrahams, die peloton se senior paramedikus, het aanbeveel Isaiah moet vir verdere waarneming en behandeling na ‘n hospitaal geneem word.
Samuels het Vrydag by Isaiah en sy ma in die hospitaal besoek afgelê en gehoor dit is boonop die baba se verjaardag.
Smith sê: “Ek wil Samuels vir sy dapperheid prys – daar kan geen twyfel wees dat sy optrede Isaiah se lewe gered het nie, ek is ongelooflik dankbaar teenoor die ma wat die teenwoordigheid van verstand gehad het om te weet dat hulp by die brandweerstasie beskikbaar is.”





