WES-KAAP. – Tussen Julie 2024 en Mei 2025 het die Stad Kaapstad se metropolisie-CCTV-netwerke 215 breek-en-grypinsidente (smash and grab) aangeteken. Die meeste van hierdie insidente is laatmiddag en vroegaand, veral oor naweke aangemeld.
JP Smith, DA-burgermeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê in ‘n verklaring die grootste brandpunt blyk die korridor tussen Bonteheuwel en Langa te wees, maar ander kruisings het ook ‘n onlangse toename in hierdie soort insidente aangedui. Ander gebiede wat dikwels geraak word, sluit Leonsdale, Beaconvale, die Foreshore, Elsiesrivier Industria, Epping Industria, Milnerton en Philippi in. Die onlangse verandering van hierdie tipe misdaadbrandpunte kan aan die ingryping van wetstoepassers toegeskryf word. Die Stad gebruik kringtelevisie in gebiede met bestaande dekking om verdagte gedrag dop te hou en om, waar moontlik, hulpbronne te ontplooi. Waar hulpbronne dit toelaat, word statiese patrollies in probleemareas uitgevoer.
“Die meeste van die gebiede met die hoogste aantal insidente is naby aan mekaar geleë. Die tendens wys dat hierdie opportunistiese misdadigers toeslaan wanneer mense minder waaksaam is, ná ’n lang werksdag of oor naweke wanneer hulle meer ontspanne is en waardevolle items soos inkopiesakke op agtersitplekke gelos word,” sê Smith.
Daaglikse patrollies word op die N2, N7, R300 en N1 uitgevoer om veiligheid op snelweë te bevorder. Verdere ontplooiings is vir die nuwe finansiële jaar, veral op die N2 en omliggende gebiede, insluitend Nelson Mandela-boulevard tot Sir Lowryspas, Baden Powell-rylaan, Borcherds Quarry en die lughawe se toegangsroetes beplan.
“Waaksaamheid bly uiteindelik die sleutel. Die metropolisie hou bewusmakingsveldtogte in hoërisikogebiede om motoriste teen die gevare te waarsku en hulle oor voorkomende maatreëls in te lig. Verseker dat waardevolle items in die kattebak toegesluit is, dat vensters en deure gesluit is en vermy afleiding soos selfoongebruik terwyl jy by ’n kruising stilhou,” het raadslid Smith bygevoeg.
Motoriste word aangeraai om deurentyd van hulle omgewing bewus te wees op hulle hoede te bly.
Persone wat mense by besige kruisings sien ronddwaal, word aangemoedig om dit by die Stad se Openbare Noodkommunikasiesentrum aan te meld sodat beamptes proaktief kan optree. Bel 021 489 7700 van ‘n selfoon af.