Chroniese siek pasiënte word weggewys by staatsinstansies, sê DA

Lees ook :

Die DA in die Noord-Kaap het die gesondheidsdepartement veroordeel na bewerings dat chroniese siek pasiënte by Marydale-kliniek in Marydale in die Noord-Kaap, weggewys is.

Andrew Louw, DA-premierskandidaat in die Noord-Kaap, sê: “Chroniese siek pasiënte word in die steek gelaat deur die mislukte ANC-regering wat aanhoudend bly wys dat dit nie in staat is om die provinsie se gesondheidstelsel reg te maak nie.”

“In die nuutste reeks klagtes is die departement se onvermoë om sy begroting behoorlik te bestuur, asook om ‘n ononderbroke toevoer van medikasie te voorsien, aan die lig gebring. Die DA is bewus van minstens drie gevalle waar pasiënte van die Marydale-kliniek weggewys is weens die departement se eie tekortkominge,” verduidelik Louw.

Eerste geval

Die eerste twee gevalle het albei te doen met ‘n tekort aan chroniese medikasie, sê Louw: “Mnr. Desmond Koopman, wat aan epilepsie en chroniese maagprobleme ly, vrees vir sy lewe omdat die kliniek gereeld sonder medikasie is, wat beteken dat behandeling vir sy chroniese toestand gereeld onderbreek word.”

Tweede geval

Louw sê: “Mnr. Jakob Joggam, wat aan chroniese asma en emfiseem ly, moet lank voor die tyd aansoek doen vir sy maandelikse suurstoftoevoer om die risiko van die swak toevoer van suurstof deur die kliniek te verminder. Boonop sukkel hy ook met ‘n lekkende suurstofsilinder.”

Derde geval

“In ‘n derde geval moes ‘n pasiënt van Marydale ver reis om privaat gesondheidsorg te ontvang, aangesien die kliniek hom nie kon assisteer nie,” sê Louw.

Departement sê hulle is bankrot

“Die Marydale-kliniek het glo in Oktober verlede jaar aan pasiënte gesê dat die gesondheidsdepartement bankrot is, en dít die rede is waarom die kliniek nie genoegsame gesondheidsorg aan pasiënte in nood kan verskaf nie,” sê Louw.

Louw sê: “Dalk het die mislukte ANC nog nie opgemerk dat ‘n groeiende aantal Suid-Afrikaners ook bankrot is as gevolg van ‘n buitengewoon hoë werkloosheidssyfer en groeiende lewenskoste nie. Die meerderheid van die inwoners van Marydale is uitsluitlik afhanklik aan toelaes en kan nie vervoer of privaat gesondheidsorg bekostig nie. Dit is dus onaanvaarbaar dat die gesondheidsdepartement die onus van gesondheidsorg op arm mense plaas.”

“Dit is ‘n epiese mislukking van die ANC. Dit maak nie saak dat hierdie provinsiale departement sedert die begin van die huidige politieke termyn in 2014 drie verskillende LUR’s en vyf verskillende departementshoofde gehad het nie. Hulle is almal net verskillende bestuurders van dieselfde gebreekte ANC-bus en hulle is nie in staat om broodnodige verandering binne die gesondheidsektor te bring nie. In teenstelling het die departement van gesondheid in die DA-regeerde Wes-Kaap ‘n stelsel verfyn wat help om plaaslike tekorte aan medisyne te voorkom. Terselfdertyd werk die departement se chroniese-resepteringseenheid optimaal en is daar, behalwe gesondheidsfasiliteite, 6 000 insamelpunte vir medikasie wat per koerier gestuur word. Die departement het ook R90 miljoen begroot om die vervoer van meer as 150 000 pasiënte na gesondheidsorgfasiliteite te verseker. Dit is heeltemal anders as in die Noord-Kaap, waar daar nie eens geld is om lisensies van voertuie vir pasiëntvervoer te hernu nie,” sluit Louw af.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief