Fibromialgie: daar is hoop in die pyn

Lees ook :

Daar is hoop in die pyn
Daar is hoop in die pyn Foto: verskaf

“Fibromialgie is die onsigbare siekte waarvan min mense weet, maar ek bly steeds hoopvol.” Dit is die woorde van Kimberliet, Amanda Loots (40), oor haar pad wat sy stap met dié ongeneesbare siekte.

Wat is fibromialgie?

Fibromialgie is ’n toestand wat gekenmerk word deur wydverspreide skeletpyn, vergesel van moegheid, slaap-, geheue- en gemoedskwessies. Daar is in 2021 bevind dat fibromialgie ’n outo-immuun siekte is, wat beteken dat dit ’n toestand is wat voortspruit uit ’n abnormale immuun-reaksie op ’n  funksionerende liggaamsdeel.

Lewe saam met jou pyn

Amanda is ’n onderwyseres by Hoërskool Roodepan. Sy stap die fibro-pad saam met haar man, Phillip Loots, hul twee kinders, haar ouers en haar susters. Sy is tussen 2014 – 2016 deur dokters Brits en Greyling gediagnoseer. Sy het ook al twee rugoperasies en drie nekoperasies ondergaan.   

“Elke dag het sy eie uitdagings, en wanneer ek my “Fibro Flares” kry steun ek ontsettend baie op my wonderlike man, kinders, my ouers en susters. Al die pyn en anti-inflammatoriese medikasie in die wêreld kan nie hierdie konstante pyn wegvat nie en operasies is ook nie die antwoord nie. Ek gaan slaap moeg en staan weer moeg op. Ek vat dit soos dit kom.” 

Fibro se newe-effekte

Amanda is ook gediagnoseer met interstisionele sistitis, wat kroniese pyn op jou blaas veroorsaak. Dit is maar net een van vele newe-effekte van fibromialgie. Fibro-lyers ervaar nie net daaglikse pyn nie, maar ook swelling, wat hulle oorgewig laat voorkom. Al jou spiere in jou liggaam is ook geweldig sensitief vir enige vorm van aanraking.

Fibromialgie is baie werklik vir diegene wat chroniese, wydverspreide simptome ervaar. Bekendes soos Lady Gaga, Morgan Freeman en Sinead O’Conner leef ook met hierdie ondraaglike siekte.

Dit is belangrik om voort te gaan om te werk met jou mediese span. As ’n behandelingsmetode nie werk nie, moenie moed opgee nie – soek na nuwe terapieë, dit kan die wêreld se verskil maak. Dit is ook belangrik om te besef dat jy nie alleen is nie. Ondersteuning van ander mense met fibromialgie kan help.

Elke dag ’n klein bietjie motivering

Amanda se boodskap aan ander fibro-lyers is: “Fibro is nie ’n maklike siekte om te hê nie. Moet net nooit moedeloos en hopeloos voel nie. Vat jou siektetoestand dag vir dag. Doen wat jy kan vandag en los die res vir môre. Lag baie en probeer om die lewe te geniet ten spyte van jou pyn.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief